Urantia Boek-Lesers SA


 

Geestelike Leringe van Die Urantia Boek:
’n Sinopsis

deur Ken Glasziou

 

Die Universele Vader

 

Bo en behalwe enigiets anders is die oneindige God ewiglik ’n Vader. God is 'n Vader in die hoogs moontlike sin van daardie woord. Hy word ewig gemotiveer deur die volmaakte idealisme van goddelike liefde en tedere geaardheid wat sy sterkste uitdrukking en grootste bevrediging vind deur lief te hê en lief gehê te kan word.

 

Onbaatsugtigheid is eie aan ouerlike liefde. God betoon nie liefde soos 'n vader nie, maar as 'n vader.

Die Eerste Vader is universele gees, ewige waarheid, oneindige realiteit, en vader persoonlikheid - ’n oortreffende realiteit. Maar God is selfs nog meer. Hy is 'n reddende persoon en 'n liefdevolle Vader vir almal wat geestelike vrede op die Aarde geniet, en wat smag om oorlewing van die persoonlikheid tydens die dood te smaak.

 

Die bestaan van God is geheel en al onmoontlik om gedemonstreer te kan word, behalwe vir die Godbewussyn  van die menslike verstand en die teenwoordigheid van die God-Gees wat binne die sterflike intellek inwoon - en geskenk word as die vrye gawe van die Universele Vader. Dit is nie daar as eiendomsreg nie, maar dit is so ontwerp vir al diegene wat kies om die sterflike bestaan te oorleef.  

  

Die Persoonlikheid van God

 

Die Universele Vader is die glanspunt van goddelike persoonlikheid; hy is die oorsprong en eindbestemming van alle persoonlikheid; hy is oneindige persoonlikheid. Maar hoewel God baie meer is as 'n persoonlikheid soos wat dit deur die mens begryp word, weet ons ewe goed dat hy nie enigiets anders kan wees as heilig, regvaardig en groot nie, 'n ewige, oneindige, ware, wonderskone, liefdevolle, en inherent goeie persoonlikheid. 

 

Alleen deur 'n persoonlikheidsbenadering kan ons begin om die eenheid van God te begryp. Om die persoonlikheid van die Eerste Bron en Sentrum te ontken laat slegs die keuse tussen twee filosofiese dilemmas - materialisme en panteisme.

 

God is gees - gees persoonlikheid; die mens is ook gees - potensiële gees persoonlikheid. Jesus van Nasaret het die volle verwesenliking van die mens sê gees potensiaal bereik. Daarom word sy lewe van die bereiking van die Vader se wil, die mens sê ware en ideale openbaring van die persoonlikheid van God.

 

Die God-Gees Binne-in

 

Binne-in elke sterfling woon daar 'n fragment van God, 'n onafskeidelike, integrerende deel van goddelikheid, die Gees van God wat binne-in elke indiwidu woon. En die teenwoordigheid van hierdie inwonende Gees van God word gekenmerk deur:

 

1.     Die intellektuele vermoë om God te ken - God-bewussyn.

2.     Die geestelike drang om God te vind.

3.     Die persoonlikheidsverlange om soos God te mag wees - die heelhartige begeerte om die Vader se wil te mag doen.

 

Wanneer die bewussyn God glo en die siel God ken en wanneer, met die aanmoediging van die inwonende Gees, hulle almal God begeer, dan is die oorlewing van die indiwidu verseker.

 

Die stoflike self beskik oor persoonlikheid en identiteit, tydelike identiteit. Die voor-persoonlike inwonende God-Gees beskik ook oor identiteit, ewige identiteit. Saam is die stoflike persoonlikheid en die gees persoonlikheid in staat om hulle skeppende eienskappe só te verenig dat die oorlewende entiteit in aansyn kom - die onsterflike siel.

 

Die Aard van God

 

Die aard van God kan ten beste begryp word deur die openbaring van die Vader wat Jesus van Nasaret ontvou het in sy menigvuldige leringe en in sy uitsonderlike lewe in die vlees.

 

Die goddelike natuur kan ook beter begryp word deur die mensdom as individue hulleself beskou as kinders van God - en opsien na die Skepper as 'n ware en geestelike Vader.

 

God sê primale volmaaktheid bestaan uit die inherente volmaaktheid van die goedheid van sy goddelike geaardheid. En God se eienskappe van liefde, waarheid, skoonheid, en goedheid is beslissend vir al hierdie terme.

 

Die skepsel se behoefte is heeltemal genoegsaam om die volle vloei van die Vader se tedere barmhartigheid en reddende genade te verseker.

 

Die Liefde van God

 

Die grootste bewys van die goedheid van God en die allerhoogste rede om Hom lief te hê is die inwoning van Sy Gees - die Gees wat so geduldig wag op die uur wat beide van julle, ewiglik, één sal word.

 

Wanneer die mens die liefde van 'n persoonlike God uit die oog verloor, word die koninkryk van God, ten beste, maar slegs die koninkryk van die goeie. Liefde is die oorheersende eienskap van al God sê persoonlike handelinge met Sy skepsele.

 

Dit is die inwonende Gees van God wat die liefde van God individualiseer aan elke menslike siel. En die mens se dierbaarste benadering tot God is deur liefde - want God is liefde.

 

Die Goedheid van God

 

In die fisiese heelal kan ons goddelike skoonheid waarneem, in die intellektuele wêreld mag ons ewige waarheid onderskei, maar die goedheid van God word slegs aangetref in die geestelike wêreld van persoonlike godsdienservaring.

 

In wese is godsdiens 'n geloofsvertroue in die goedheid van God.

 

In die wysbegeerte kan God groot en absoluut wees, op 'n manier selfs intelligent en persoonlik, maar in godsdiens moet God ook moreel wees, Hy moet goed wees. Die mens mag 'n gedugte God vrees, maar hy het lief en vertrou slegs 'n goeie God. derhalwe, om liefdevol te wees, moet God goed wees.

 

Hierdie goedheid van God is deel van die persoonlikheid van God. Die volle openbaring daarvan kom slegs voor in die persoonlike godsdienservaring van die gelowige kinders van God. Die algehele sterflike konsep van God is voortreflik verlig deur die openbaringslewe van Jesus van Nasaret.

 

Goddelike Waarheid en Skoonheid

 

Waarheid is wonderskoon aangesien dit beide vol en simmetries is. Wanneer die mens na waarheid soek, jaag hy die goddelike werklikheid na.

 

Goddelike waarheid word ten beste uitgeken aan die geestelike geur daarvan.

 

Waarheid is samehangend, skoonheid is aantreklik, goedheid is stabiliserend.

 

Die Eienskappe van God

 

Binne die perke van dit wat konsekwent is met die goddelike geaardheid, is dit letterlik waar dat, met God alle dinge moontlik is.

 

God is alles en in alles. Maar selfs dit is nie alles omtrent God nie.

 

Die skepsel bestaan nie alleen in God nie, maar God lewe ook in die skepsel - en wanneer ons verkeerd doen teister ons die inwonende Gees van God, want dit moet die gevolge van ons bose gedagtes deurmaak met die menslike bewussyn van sy eie gevangesetting.

 

Vir jou as skepsel kom baie van die handelinge van die almagtige Skepper voor as harteloos en wreed. Maar dit is nie die waarheid nie. God sê doen en late is alles doelgerig, intelligent, wys, goed, en ewig bedagsaam vir die hoogste goed, nie altyd vir die individu nie, maar vir die welsyn en hoogste goed van almal betrokke, vanaf die laagste tot die hoogste. Maar baie dinge vind wel plaas op die evolusionêre wêrelde wat nie die persoonlike handelinge van die Universele Vader is nie.

 

Gods Universele Kennis

 

God weet alle dinge. Die goddelike verstand is bewus van, en vertroud met, die gedagte van die ganse skepping. Sy kennis aangaande gebeure is universeel en volmaak.

 

Die Vader se Voorrang

 

Die oneindige en ewige Heerser van die heelalle is krag, vorm, energie, proses, patroon, beginsel, teenwoordigheid, en geïdealiseerde werklikheid. Maar is is nog meer as dit. Hy is persoonlik. En Hy oefen 'n soewereine wil uit, ervaar self-bewussyn van goddelikheid, voer die mandate van 'n skeppende bewussyn uit, jaag na die satisfaksie van die besef van 'n ewige voorneme, en manifesteer 'n Vaderlike liefde en toegeneentheid vir sy heelal kinders.

 

Gods Allerhoogste Heerskappy

 

In die harte van mense mag die Universele Vader dalk nie altyd sy sin kry nie; maar in die optrede en bestemming van 'n planeet sal die goddelike plan altyd seëvier; die ewige voorneme van wysheid en liefde triomfeer altyd. 

 

Gods Verwantskap met die Heelal

 

As God sou uittree as die onderhouer van die ganse skepping, sal daar oombliklik 'n universele ineenstorting plaasvind. As dit nie vir God was nie, sou daar nie so iets soos werklikheid gewees het nie.

 

Gods Verwantskap met die Indiwidu

 

Die Vader begeer dat al sy skepsele persoonlik in gemeenskap met Hom moet verkeer. Daarom, stel dit vas in jou lewensuitkyk: God kan benader word; die weg is oop.

 

Net so ook is die mens se uiteindelike bestemming verseker wanneer individue een word met hulle inwonende God-Gees en daardeur aan die heelal verkondig dat so 'n bestyger  'n onherroeplike besluit geneem het om vir ewig die Vader se wil uit te lewe.

 

Die Teenwoordigheid van God

 

Die goddelike teenwoordigheid kan nie enige ander plek meer seker ontdek word nie as in jou gepoogde gemeenskap met die inwonende God-Gees nie. Wat 'n fout om te droom omtrent 'n God ver weg in die hemele terwyl die Universele Vader binne-in julle gemoedere lewe.

 

Soos wat die siel van joint mind en God-Gees skepping al meer bestaan, ontwikkel daar ook 'n nuwe fase van sielbewustheid wat toenemend in staat is van beide die teenwoordigheid van die inwonende Gees-van-God ervaar en die gees-leidinge daarvan kan herken.

 

God in Godsdiens

Dit verg openbaring om aan te toon dat die Eerste Oorsaak van die Wetenskap en die selfbestaande Eenheid van die Filosofie, die God van godsdiens is, vol van genade, goedheid, en liefde en verbind is tot die ewige oorlewing van Sy kinders op die Aarde.

God is nie alleen die bepaler van ons eindbestemming nie -- Hy is ons uiteindelike bestemming.

Ons Bewussyn omtrent God

God-bewussyn word in drie fases ervaar – eerstens in verstandelike bewussyn, die begrip van die idee van God; tweedens in sielsbewussyn, die besef van die ideaal van God; en laastens skemer gees-bewussyn deur, die besef omtrent die gees-werklikheid van God. By wyse van vereniging van hierdie drie faktore skemer die besef deur van die persoonlikheid van God. Met die bereiking van hierdie vereniging, kan die mens gedy in die persoonlike belewenis van goddelike vriendskap en in die geestelike bevrediging van ware verering.

Die God van Persoonlikheid

Alle persoonlikheid, vanaf die nederigste sterflinge tot die mees verhewe skepper-hoogwaardigheidsbekleër van goddelike status, is geheel en al gesentreer in die Universele Vader.

God, die Vader, is die skenker en die instandhouer van elke persoonlikheid. So ook is die Vader die eindbestemming van al daardie eindige persoonlikhede wat kies om die goddelike wil te volbring, diegene wat vir God liefhet en verlang om soos hy te wees.

God is persoonlik bewus van, en in persoonlike kontak met, alle persoonlikhede op alle vlakke van self-bewuste bestaan – en hierdie bewustheid is onafhanklik van die sending van die God-Gees-Binne-in.

Die aard van God kan ten beste begryp word deur die openbaring van die Vader wat Jesus van Nasaret onthul het in sy menigvuldige leringe en in sy voortreflike sterflike lewe in die vlees. Die goddelike aard kan ook baie beter begryp word as individue hulleself ag as kinders van God en opsien na die Paradys-Skepper as hulle ware geestelike Vader.

Ware godsdiens

Slegs die ware godsdiens van persoonlike geestelike ervaring kan produktief en kreatief funksioneer in die teenswoordige krisis van die beskawing.

Godsdienstiges moet funksioneer in die gemeenskap, in die industrie, en in die politiek as individue – en nie as groepe, partye, of instellings nie.

Godsdienstiges is geensins van meer waarde in die take van sosiale rekonstruksie in vergelyking met nie-godsdienstiges nie.

Die enigste behoorlike gesindheid van georganiseerde godsdiens bestaan in die leer van geen-geweld, die leerstelling van vreedsame evolusie in die plek van gewelddadige rewolusie – vrede op Aarde en ’n welbehae onder die ganse mensdom.

Die koninkryk van die hemele op die Aarde is nóg ’n sosiale, nóg ’n ekonomiese orde nie, dit is uitsluitlik ’n geestelike familie van God-kennende individue.

Ongeag watter opwellings saam met die groei van ’n beskawing mag gaan, godsdiens is eg en die moeite werd as dit die soewereiniteit bevorder van waarheid, skoonheid, en goedheid – en deur liefde en verering word dit gevul met betekenis as bewustheid van die teenwoordigheid van God en deelgemeenskap met die ganse mensdom.

Suiwer feitlike kennis oefen weinig direkte invloed uit op die persoonlike optrede van die individu. Dit is veeleerder wat ’n persoon in glo eerder as wat ’n persoon weet, wat ons gesindheid teenoor ons medemens oorheers.

Daar is geen gevaar daarin dat godsdiens meer en meer ’n privaat en persoonlike belewenis word nie – solank dit nie die motivering daarvan vir onbaatsugtige, liefdesdiens verloor nie.

Die mensdom se grootste geestelike gevaar bestaan uit gedeeltelike vooruitgang – onvoltooide groei – die versaking van godsdienste van gesag en vrees , sonder om ’n stewige greep te kry op die openbarende godsdiens van liefde nie.

In moderne tye word godsdiensvoortuitgang verhinder deur die onversoenbaarheid van primitiewe en eksklusiewe geloofstelsel soos diegene wat:

1.     Vasklou aan ’n God wat die goeie beloon en die slegte straf.

2.     Vashou aan humanisme terwyl die gode verwerp word.

3.     Die natuur of ’n materialistiese pseudo-wetenskap vergoddelik.

Wat nou nodig is, is die eensgesindheid wat kan voortspruit vanuit aanvaarding van die verenigde bestaan van Godsbewussyn, gees, verstand, en energie.

Godsdiens is geensins ’n slaafse geloof in dreigemente van straf of beloftes van magiese belonings nie. Ware godsdiens is veel eerder om vir God as jou Vader te mag ken en die mensdom as jou familie.

Jesus en Ware Godsdiens

Die godsdiens van Jesus is die mees dinamiese invloed wat ooit die menseras geaktiveer het. Jesus het tradisie in skerwe laat spat, dogma omvergewerp, en ’n beroep gedoen op die mensdom om die hoogste ideale na te strewe in tyd en ewigheid – om volmaak te wees soos die Vader in die Hemele volmaak is.

Die leer aangaande die algehele verdorwenheid van die mens het heelwat van die potensiaal van godsdiens tot niet laat gaan sover dit sosiale reperkussies van ’n opheffende aard en van inspirerende waarde aanbetref. Jesus het getrag om die waardigheid van die mensdom te herstel toe hy verklaar het dat ons almal kinders van God is.

’n Tyd sal aanbreek wanneer godsdienstiges bymekaar sal kom en waarlike samewerking sal begin op die grondslag van eenheid van ideale en doelwitte. En dit sal doelstellings wees eerder as geloofsbelydenisse wat godsdienstiges sal verenig.

Aangesien ware godsdiens ’n aangeleentheid van persoonlike godsdienservaring is, is dit onvermydelik dat elke individuele godsdienstige oor sy eie persoonlike interpretasie sal beskik aangaande die besef van sy eie ervaring.

Toekomstige godsdienstiges moet hulle godsdiens uitlewe, en hulle toewy aan die heelhartige diens aan God en die mensdom.

Dit is hoog tyd dat manne en vroue godsdienservaringe behoort te hê op persoonlike en verhewe vlakke sodat dit slegs besef en uitgedruk kan word deur “gevoelens wat te diep lê vir woorde.”

Ekonomiese onderlinge afhanklikheid en sosiale verkeer sal uiteindelik bydra tot die vereniging van die mensdom. Mense is van nature dromers, maar die wetenskap het ’n sobere effek op hulle sodat godsdiens teenswoordig hulle aktiveerder kan word en met veel minder gevaar dat fanatieke reaksies verwag kan word. Ekonomiese noodwendigheid bind hulle aan realiteit en persoonlike godsdienstige ervaring bring hulle van aangesig tot aangesig met die ewige werklikhede van kosmiese burgerskap.

Godsdiensbelewenis – lewe elke dag lojaal

Die belewenis van ’n dinamiese godsdienstige lewenstyl kan die alledaagse individu transformeer tot ’n persoonlikheid met idealistiese krag en mag.

Godsdiens is diensbaar aan die vooruitgang van almal deur die vooruitgang van elkeen te bevorder – en die vordering van elkeen word aangevul deur die vordering van almal.

Blywende indrukke word op kinders gemaak slegs deur die onkreukbaarheid van hulle volwasse metgeselle. Onkreukbare persone is groeiende persone – en groei is ’n indrukwekkende en inspirerende realiteit.

Lewe elke dag lojaal – groei – en môre sal na homself omsien. Die vinnigste manier vir ’n paddavissie om ’n padda te word, is om elke dag getrou as ’n paddavissie te lewe.

Godsdiens is ’n persoonlike belewenis wat groei in verhouding met die uitbreiende soeke na uiterste waardes.

Godsdiensgroei word begunstig deur sensitiwiteit aan goddelike waardes; deur jou geestelike lewe met jou metgeselle te deel, om selfsug te vermy, weiering om goddelike barmhartigheid in die modder te trap, en om te lewe asof in die teenwoordigheid van God.

Geestelike groei

Geestelike ontwikkeling berus op die handhawing van ’n lewende geestelike verbinding met ware, egte geestelike kragte en magte asook ’n gevolglike en voortdurende dra van geestelike vrugte – daardeur voorsien ons die bediening aan ons metgeselle van wat ons ontvang het van ons geestelike weldoeners.

Geestelike vooruitgang berus op intellektuele erkenning van ons geestelike armoede en self-bewustheid van volmaaktheidshonger –ons begeerte om God te mag ken en soos hy te mag wees, ons heelhartige begeerte om die wil van die Vader in die hemele te doen.

Geestelike groei begin met ’n ontwaking van behoeftes, gevolg deur die onderskeiding van betekenisse en die ontdekking van waardes.

Die getuienis van egte geestelike ontwikkeling bestaan uit ’n menslike persoonlikheid wat deur liefde gemotiveer word, aangevuur deur onbaatsugtige dienswerk, en oorheers deur die volmaakte ideale van goddelikheid. Hierdie algehele belewenis beslaan die ware werklikheid van godsdiens.

Geestelikheid is die mate van ons nabyheid aan God en bruikbaarheid vir ons medemense. En dit staan direk teenoor die eliminasie van selfsugtige eienskappe van ons liefde.

Werklike geestelike status is ’n funksie van goddelikheids-strewe, instemming met die goddelike Gees-Binne-in.

Die oogmerk van menslike self-verwesenliking behoort geestelik te wees en nie materieel nie. Die enigste realiteite wat werd is om na te streef, is goddelik, geestelik en ewig.

Kies jou oogmerke versigtig aangesien die onsterflike persoonlikheid wat jy ontwikkel verby die ruimte strek, tyd oorwin, en ons ewige bestemming van goddelike volkomenheid en diens bereik.

Betekenisse en waardes

Godsdiens is nie ’n tegniek waarvolgens  ’n godsalige gemoedsrus bereik word nie; dit is ’n impuls om die siel te organiseer vir dinamiese diens – die toewyding van die self in die getroue, onkreukbare diens van liefde tot God en diensbaarheid aan die mensdom.

Die allerhoogste waarde van die menslike lewe bestaan uit die kweek van waardes, vooruitgang in betekenisse, en ’n besef van die kosmiese interafhanklikheid daarvan. So ’n ervaring is gelykstaande aan Godsbewustheid.

In die fisiese lewe vertel die sintuie vir ons omtrent die bestaan van dinge; die bewussyn ontdek die realiteit van betekenisse; geestelike ervaring openbaar die egte waardes daarvan.

As jy jou medemense liefhet, dan moes jy hulle waarde ontdek het. Jesus het ons so innig liefgehad omdat hy so ’n hoë waarde aan elkeen van ons geheg het.

As jy jou buurman verstaan, sal jy verdraagsaam wees – en hierdie verdraagsaamheid sal groei tot vriendskap en in liefde ontluik.

Jy kan nie jou metgeselle waarlik liefhê bloot as ’n wilshandeling nie. Liefde word slegs gebore deur ’n deeglike aanhoudende begrip van hulle ware motiewe en sentimente.

Dit is nie belangrik dat jy die hele mensdom vandag moet liefhê nie, veeleerder, leer om net nog ’n mens elke dag lief te kry.

Die liefde is aansteeklik, en wanneer menslike toewyding intelligent en wys is, dan is liefde meer aansteeklik as haat.

As elke sterfling slegs ’n fokuspunt van aansteeklikheid kon word, sal die heilsame virus, wat die liefde is, binnekort die ganse mensdom vul – en dit sal die besef wees dat ons almal kinders is in die een familie van God.

Opregtheid

Die opregte godsdiensyweraar is bewus van heelal-burgerskap en eiewaarde – ’n self wat oorgegee het aan ’n allesomvattende motivering wat verhoogde self-dissipline oplê, wat emosionele konflik verminder, en die sterflike lewe werklikwaar die moeite werd maak om te leef.

Die morbiede herkenning van menslike beperkinge word verander na die natuurlike bewustheid van sterflike tekortkominge wat geassosieer word met morele deursetting en die geestelike aspirasie om die hoogste heelal-oogmerke te verwesenlik. En hierdie intense strewe na die verwesenliking van super-sterflike ideale word altyd gekenmerk deur toenemende geduld, verdraagsaamheid, standvastigheid, en verdraagsaamheid.

Ware godsdiens is lewende liefde, ’n lewe van diens. Maar die godsdiensyweraar se afsydigheid van baie wat suiwer tydelik en onbenullig is, lei nooit tot sosiale isolasie nie. Egte godsdiens neem niks weg van die menslike bestaan nie, maar dit voeg wel nuwe betekenisse by tot die hele lewe.

Een van die mees verstommende kenmerke van die godsdienstige lewe is daardie dinamiese en sublieme vrede wat alle verstand te bowe gaan, daardie kosmiese ewewigtigheid wat kenmerkend is van die afwesigheid van alle twyfel en onrus.

Hoe ver kan ons gaan?

Hoewel die gemiddelde sterflik nie kan hoop om die volmaaktheid van karakter te bereik wat deur Jesus bereik is tydens sy lewe in die vlees nie, is dit nietemin moontlik vir elke sterflike gelowige om ’n sterk en verenigde persoonlikheid te ontwikkel in ooreenstemming met die volmaakte lyne van Jesus se persoonlikheid.

Die nimmereindigende minsaamheid en onkreukbare karaktervastheid van Jesus het sy volgelinge verstom. Hy was waarlik opreg – in hom was nie ’n greintjie geveinsdheid nie. Hy was vry van skynheiligheid. Hy het die waarheid uitgeleef, net soos hy dit aan ander geleer het. Hy was die waarheid. Hy was redelik. Benaderbaar, prakties, vry van alle afwykende, wisselvallige, en eksentrieke neigings. En hy was vreesloos.

Van Jesus is daar in waarheid gesê, “Hy het op God vertrou.” As ’n man onder die manne, het hy op ’n verhewe wyse vertrou op die Vader in die hemele. Hy het sy Vader vertrou net soos ’n klein kindjie ’n aardse ouer vertrou. Sy geloof was volkome, maar nooit aanmatigend nie. Hy het nooit in sy geloof geweifel nie. Hy was immuun teen teleurstelling, ongeërg tydens vervolging, en onaangeraak deur oënskynlik mislukking. Hy het die mense liefgehad. En hy was altyd besig om goed te doen.

Jesus was ongewoon vrolik – dog nooit blind en onredelik nie. Hy was te alle tye milddadig, en het nooit moeg geraak om te verklaar dat dit saliger is om te gee as om te ontvang nie.

Hy het sy entoesiasme beheer; dit het hom nie beheer nie. Hy was onvoorwaardelik toegewy aan “die dinge van sy vader.”

Jesus was ’n siel gevul met blydskap. Maar toe plig dit vereis het, was hy gewillig om manmoedig deur die ‘vallei van doodskaduwee’ te stap. Hy was blymoedig, maar terselfdertyd nederig.

Sy moedigheid was slegs geëwenaar deur sy geduld. Hy was nooit haastig nie; sy selfbeheersing was geesverheffend.

Jesus was groot omdat hy goed was – tog het hy met klein kindertjies gespeel. Hy was sagmoedig en ongekunsteld in sy persoonlike lewe – tog was hy die vervolmaakte man van ’n heelal. En sy metgeselle het, sonder om te skroom, vir hom “Meester” genoem.

Jesus was ’n volmaakte verenigde menslike persoonlikheid. Vandag gaan hy voort om die sterflike bestaan te verenig. Hy betree die menslike bewussyn om dit op te hef, te transformeer, en te verheerlik. Dit is letterlik waar: “As enige persoon die gees van Jesus Christus binne-in hom het, dan is hy ’n nuwe skepsel; die ou dinge gaan verby; kyk, alle dinge is besig om nuut te word.” (2 Kor. 5:17)

Die werklikheidsgrondslag van godsdiens

Godsdiens, net soos die menslike ervaring, wissel van die primitiewe slawerny van die vrees van die evoluerende primitief tot en met die manjifieke geloofsvryheid van daardie sterflinge wat uitmuntend bewus is daarvan dat hulle lede is van die familie van die ewige God wat liefde is.

Godsdiens is die ervaring van godheid in die bewussyn van ’n morele wese van evolusionêre oorsprong. Dit verteenwoordig ware belewenisse met ewige realiteite in die tyd, die besef van geestelike bevrediging wyl steeds in die vlees.

Daar is werklikwaar ’n ware, egte innerlike stem, “die ware lig wat elke mens verlig wat in die wêreld inkom.” En hierdie gees-leiding is afsonderlik van die etiese impulse van die menslike gewete. 

Die versekering van godsdiens gaan die redelike verstand heeltemal te bowe, selfs die logika van die wysbegeerte. Godsdiens is geloof, en versekering.

Die Goddelike Gees maak kontak met sterflinge, nie deur gevoelens of emosies nie, maar in die gebied van jou mees verhewe en vergeestelike denke. Dit is jou denke en nie jou gevoelens nie wat jou Godwaarts rig.

Die goddelike natuur kan slegs waargeneem word deur geloofsoë. Maar die gemoed wat God waarlik onderskei, hoor sy inwonende Gees, is die suiwere gemoed. Want “Sonder heiligheid kan geen mens God sien nie.”

Godsdiens is ’n diepsinnige en werklike ervaring van geestelike gemeenskap met die gees-invloede wat teenwoordig is binne-in die menslike bewussyn – en in sover so ’n ervaring omskryfbaar is, is dit eenvoudig die belewenis van die ervaring van die realiteit van om in God te glo as die werklikheid van so ’n geestelike ervaring.

Godsdienshunkeringe en geestelike drange is van so ’n aard dat dit ons beweeg om in God te glo – vanwaar dit evolueer tot die oortuiging dat in God behoort te glo, sodat ons uiteindelik daardie gesindheid van siel verwerf wat tot gevolgtrekking kom dat ons nie oor die reg beskik om nie in God te glo nie.

En so kom ons tot die gevolgtrekking dat om selfs vir God in twyfel te trek of om sy volmaakte goedheid te wantrou, sou beteken om ontrou te wees aan die werklikste en diepste ding binne-in die mense-gemoed en siel – die inwonende Gees van die Vader.

Om die weg aan te wys

Dit is die geloof van Jesus wat die weg aangewys het tot die alleruiterste van sterflike prestasie en wel daarin dat dit voorsiening gemaak het vir verlossing vanuit materiële kettings, intellektuele slawerny, geestelike blindheid, tyd, en onvoltooidheid van die self – die eindige.

Hierdie faktore behels persoonlike besef dat ons kinders is van die Vader wat bewus is van die universaliteit van die familie van God, die goedheid van geestelike waardes, en die noodsaaklikheid vir geesvlakke van harmonie met andere – plus die prestasie van ’n ewige lewe van vooruitgang in God – erkenning, Godsbewussyn, en diens aan God.

Jesus het die ontdekking gemaak, in sy menslike ervaring, van die Finale Vader – en ons, sy broers en susters na die vlees, kan hom navolg in dieselfde ervaring van Vader-ontdekking van die absolute goedheid van God. Sterflike wesens, soos onsself, kan selfs net soos ons is, hierdie einste satisfaksie bekom in hierdie belewenis van Vader-ontdekking soos dit die geval met Jesus was.

Jesus was en is die nuwe en lewende weg waarvolgens die mensdom die goddelike erfenis kan ontvang wat die Vader beveel het om aan hulle te behoort, as hulle maar net daarom vra.

Geloof en Wysbegeerte

Die wysbegeerte transformeer primitiewe godsdiens, wat grootliks ’n feeverhaal van bewussyn is, tot ’n lewende ervaring – waarvolgens die individu vrygemaak word wat waag om te dink, te handel, en eerlik, lojaal, en vreesloos te lewe, en in egtheid in teenstelling met al die tradisionele tekortkominge wat deur konvensies afgedwing word.

Geloof het die vlak van geloofsvertroue bereik wanneer dit die lewe motiveer en die lewenspatroon vorm gee. Die aanvaarding van ’n lering as waar is nie geloofsvertroue nie; maar blote geloof. Nog minder is sekerheid of oortuiging geloofsvertroue. ’n Gemoedstoestand raak aan geloofsvertroue-vlakke slegs wanneer dit die lewenspatroon oorheers.

Geloofsvertroue is ’n lewende eienskap van egte persoonlike godsdiensbelewenis. ’n Persoon kan waarheid glo, skoonheid admireer, en goedheid eerbiedig – maar hierdie eienskappe word nie aanbid nie. Reddende geloof is rondom God alleen gesentreerd wat al hierdie dinge verpersoonlik is, en oneindig meer.

Die verligte geestelike bewussyn is nie so seer begaan met een of ander intellektuele geloof of enige besondere lewenswyse nie as wat dit begaan is met die ontdekking van die waarheid van hoe om die lewe te lei, die goeie en korrekte tegniek van reageer op die altyd herhalende situasies van die sterflike bestaan.

Geloof is altyd beperkend en bindend; geloofsvertroue is verbredend en bevrydend. Geloof fikseer, geloofsvertroue bevry.

Godsdiensvertroue is ’n lewende ervaring behels met geestelike betekenisse, goddelike ideale, en opperste waardes; dit is Godkennend en mensgerig. Dit blaas lewe in godsdiens en behoef die godsdiensyweraar om heldhaftiglik die goue reël uit te leef.

Alhoewel godsdiens onvolmaak is, is daar ten minste twee praktiese manifestasies omtrent die aard en funksie daarvan – eerstens, die geestelike drang wat veroorsaak dat godsdienstige persone hulle more waardes projekteer direk uitwaarts in die belange van hulle metgeselle (die etiese reaksie van godsdiens) en tweedens, godsdiens skep vir die menslike verstand ’n vergeestelikte bewussyn van goddelike werklikheid wat afkomstig is vanaf morele waardes en gekoördineer is met oorheenliggende geestelike waardes.

Godsdiens voorsien sodoende ’n manier van ontvlugting vanuit die gemeenskaplike beperkings van die eindige wêreld tot die verhewe realiteite van die ewige en geestelike wêreld.

Bewysplaas en geldigheid

Daar kan nooit enige wetenskaplike of logiese bewysplase wees vir goddelikheid nie. Die rede alleen kan nooit die waarde en goedheid van godsdiensbelewenis geldig verklaar nie. Maar die volgende sal altoos waar bly: “Wie ook al die wil van God doen, sal die geldigheid van geestelike waarde begryp.” Hierdie is die nouste benadering wat gemaak kan word op die sterflike vlak deur bewysplaas te bied omtrent die werklikheid van godsdiensbelewenis. Dit is die enigste paspoort tot die voltooiing van werklikheid en tot die ewigheid van lewe in ’n universele skepping van liefde, wet, eenheid, en progressiewe goddelikheidsbereiking.

Deur die glinstering van geregtigheid te volg wat onderskeibaar is in ons siele, kan ons onsself identifiseer met die plan van die Oneindige en die voorneme van die Ewige. Sodra ons so ’n transformasie van geloofsvertroue ervaar, is ons nie langer meer ’n gebonde deel van die matematiese kosmos nie, maar eerder ’n wilskragtige kind van die Universele Vader.

’n Honger en dors in ons harte tot volkomenheid is noodsaaklik om kapasiteit te verseker ten einde die geloofsvertrouensweë te begryp wat lei tot opperste prestasie.

Dit is letterlik waar, “Menslike dinge moet geken word ten einde liefgekry te word, maar goddelike dinge moet liefgekry word ten einde geken te mag word.”

Die inwonende Vader-Gees roer altyd in ons siele ’n egte en soekende hongerte om volmaaktheid, tesame met ’n verreikende belangstelling wat alleenlik bevredig kan word deur gemeenskap met God.

God is so werklik en absoluut dat geen materiële teken of bewys en geen demonstrasie deur middel van sogenaamde wonderwerk aangebied kan word as getuienis tot sy waaragtige werklikheid nie. Ons sal altyd vir God ken omdat ons op hom vertrou – en ons geloof in hom is totaal gebaseer op ons persoonlike deelname in die goddelike openbarings van sy oneindige werklikheid.

Die honger siel van die mens weier om met enigiets minder as ’n persoonlike besef van die lewende God tevrede gestel te word. Wat God ook al anders mag wees as ’n hoër morele persoonlikheid, kan God nie, in ons honger en eindige konsep, enigsins minder wees nie.

Een van die kenmerkende eienaardighede van egte godsdiensversekering is dat, ten spyte van die absoluutheid van die bevestiging en onwrikbaarheid van gesindheid, is die uitdrukking van die gees daarvan so ewewigtig en getemper dat dit nooit die geringste indruk laat van self-bevestiging of egoïstiese selfverheffing nie.

Die wysheid van godsdiensbelewenis is ietwat van ’n paradoks, en wel daarin dat dit terselfdertyd menslik oorspronklik is, en tog ’n afleiding is van die invloed van die Goddelike Gees-Binne-in.

 

[WORD VERVOLG]

 

 

Make a Free Website with Yola.