Die Urantia Boek


 

BASIESE KONSEPTE VAN DIE URANTIA BOEK

 

Inhoud van hierdie Dokument:

Die Kosmos

Persoonlikhede van die Heelalle

Die Geskiedenis van ons Planeet

Die Voortduring van Evolusie

God se Uitreiking na Benede

Die Opperwese

Die Lewe en Leer van Jesus

 


Die Urantia Boek is ’n openbaring van feite en waarhede wat lank reeds gesog is onder wetenskaplikes, geskiedkundiges, filosowe, en godsdienstiges – terwyl Urantia die naam is van ons planeet. Die boek gee as outeurskap daarvan, bomenslike, goddelike wesens, wat, begrypenderwys, toegang het tot sekere inligting wat nie toeganklik is vir sterflinge nie. die outeurs het waar moontlik egter gebruik gemaak van alle menslike konsepte en inligting, en hulle tot bomenslike bronne gerig slegs wanneer nodig. Die onderwerpmateriaal van die ganse boek is in die algemeen daarop gefokus om “die mens se goddelike en ewige bestemming” duidelik te maak, “die eeue-lange vordering vanaf dier tot engel, van engel tot gees, van gees tot God.” (2075, 558) Dit is om hierdie fundamentele, verenigde tema van die mens se onophoudelike evolusie op te helder, dat al die verskillende fases en onderwerpe van die leerstof ingesluit is in die boek se meer as tweeduisend bladsye. Die basiese idees en filosofie van die Urantia openbaring kan soos volg kortliks uiteengesit word:

Die Kosmos

Die toneel van hierdie drama van die mens se voortdurende ontwikkeling, die arena waarin dit plaasvind, is die hele spanwydte van die ster-belaaide heelalle van die ruimte. Daarom is dit vir ons nodig om iets te kan beryp van die uitgestrekte kosmiese verhoog waarop die aksie ontvou. Daar is ’n gegewe woord-kaart, soort van bloudruk van wat ons teleskope begin om te openbaar; die tot hier toe onverbeelde omvang van die galaksies en heelall van die ruimte. Die boek vertel van die omwentelinge en georderde beweging van komponente stelsels en sub-stelsels; van die oorsprong en basiese samestelling van materie, insluitend die absolute eenheid daarvan, die ultimaton; van die relasie van materie met energie, bewussyn, en gees; en van die eeue-lange ontwikkeling van materie in die vorm van newels en sterwolke, sonne en planete, en uiteindelik in gestabiliseerde heelalle. by die ewige middelpunt of sentrum van hierdie onmeetlike swaai van die wydstrekkende galaksies, terwyl dit alles in absolute beheer gehou word, is die Paradys-Eilande, die woonplek van God, die universele Vader-Skepper.

Persoonlikhede van die Heelalle

Volgens Die Urantia Boek word die uitgestrekte kosmos bewoon deur ’n geweldige bevolking van lewende wesens – goddelike persoonlikhede, engele, en sterflinge soos ons op die aarde. Die doel, die rede, vir die in aansyn bring van hierdie ganse oneindige uitgestrekte heelalle en persoonlikhede is dit: Dat God gewil het om nie selfbehaaglik en selfbehep te wees nie. Hy is nie selfsugtig nie. Hy begeer om die blydskap, die avontuur van bestaan, te deel tot die verste uiterste moontlik, selfs tot by sulke nederige skepsels van dierlike oorsprong soos die aardse sterflinge. Daar is miljoene der miljoene planete wat bewoon word deur mense soortgelyk aan ons, en die Vader het elkeen van ons lief. “Daar is in die gemoed van God ’n plan wat elke skepsel omvat in al sy uitgestrekte gebiede, en hierdie plan is ’n ewige voorneme van grenslose geleentheid, onbeperkte vooruitgang, en eindelose lewe. En die oneindige skatte van so ’n weergalose loopbaan is joue om na te streef!” (365)

Die Geskiedenis van ons Planeet

Aangesien ons planeet, Urantia, die beginpunt is van die ewige loopbaan van aardse sterflinge, is dit passend dat ons die begin daarvan sal verstaan, asook on eie ontwikkeling vanaf diere. Ons word dus meegedeel omtrent die aarde se astronomiese oorsprong, van die geleidelike, maar gewelddadige, vorming van die aardkors en die oseane, van die bomenslike lewensinplanting, wat deur ontelbare eeue ontwikkel het tot diere, totdat die heel eerste menslike gesin sy verskyning gemaak het – en hieromtrent het ons ’n fassinerende, gedetailleerde verslag; van primitiewe volke (insluitend die oorsprong van gekleurde rasse), hulle vroeëre stamme, voor-beskawings, en vreemde godsdiensritusse, want hieruit het die morele noodsaaklikheid ontwikkel, wat die voorvereiste is vir spirituele groei. Ons sterflinge is die heel laagste lewensorde wat in staat is tot spirituele ontwikkeling, en dit is vasgestel op die feit dat die menslike besussyn ontwikkel het tot die punt waar dit ingewoon kan word deur ’n vonk van ewige goddelikheid. Die planete is die broeiplek van wilskepsels wat die verste van God is, maar wat nieteenstaande oor die potensiaal beskik om Hom te kan vind.

Die Voortduring van Evolusie

As ons sterflinge opreg sou kies in hierdie lewe om die welwillende leiding te volg van die goddelike vonk binne-in ons, kan ons die lewe en ontwikkeling op die “woningwêrelde” voortsit, en letterlik op miljoene ander opleidingsfere. Op hierdie woningwêrelde word die tragiese onvolledighede, die onregverdighede, die ongelykhede van geleenthede van aardse lewe reggestel; maar ons verdien elke sentimeter van vooruitgang, deur studie en opleiding onder toesig van engele en ander bekwame onderrigters, en hoofsaaklik deur middel van diens wat deur ons geskenk word aan diegene wat ons navolg. Ons hoef egter nie, in hierdie heelal-tydperk, terug te keer na ons geboorte planeet nie. Volgens Die Urantia Boek is daar hier benede nie kommunikasie met heengegane geliefdes nie. Die volledige sterre-reisplan van ons ondenkbare lang evolusionêre reis op weg na ons geesstatus word beskryf, insluitend gegradueerde kursusse op die biljoene wêrelde van Havona. “Julle mense het ’n eindelose ontvouing begin van ’n bykans oneindige panorama, ’n onbeperkte uitbreiding van nimmereindigende, altoos wyer wordende sfere van geleentheid vir verkwikkende diens, weergalose avontuur, sublieme onsekerheid, en grenslose prestasie.” (1194) Dit is die lang, aanloklike pad na die Paradys. Dit is die sterflike opklimmingsplan.

God se Uitreiking na Benede

Die sterflike opklimmingsplan is ’n twee-rigting aanbod. Nie alleen klim die mens God-waarts nie, maar God reik ondertoe uit na die mens. Die aanvanklike grondslag vir beweging uitwaarts, die heel eerste tree weg vanaf absolute selfbevatting, selfvoldaanheid, was die skepping van die Ewige Seun en die Ewige Gees, wat dusdoende die Triniteit gevorm het. Natuurlik het die Triniteit ewiglik bestaan, maar sover dit ons tydgebonde, eindige bewussyn aangaan, moet hierdie eksistensiële personaliserings van Godheid noodwendig in volgorde voorgestel word. Die absolute Eerste Bron en Sentrum het Homself verder laat daal in die skepping van baie bykomende goddelike persoonlikhede, minder as absoluut, wat al meer en meer die eindige genader het.

Ongeveer tweeduisend jaar gelede het een van hierdie goddelike seuns van God Homself geïnkarneer op Urantia, deels, ten einde ons sterflinge te help om te kan besef dat ook ons seuns van God is, bewoon deur ’n goddelike lig. “Die koninkryk van God is binne-in julle.” Hierdie innerlike leiding kan ons voortlei in tydlose ontwikkeling, lewe op lewe, tot volmaaktheid. Jesus het dit letterlik bedoel toe hy beveel het, “Wees julle dan volmaak.” Maar daar is ’n bykomende rede vir Jesus se inkarnasie of vleeswording. Deur sy lewe in die vlees was hy besig gewees om sy eie soewereiniteit te verdein. Die Urantia Boek leer dat hierdie selfde Seun, wat die skrynwerker van Nasaret geword het, die eintlike en letterlik skepper was van die aarde, die sonnestelsel, en ons ganse “plaaslike” heelal, met sy potensiaal van tienmiljoen bewoonde wêrelde. En uit al daardie moontlike planete waar hy sy vleeslike lewe kon lei, het hy gekies om na ons wêreld te kom – waarskynlik as gevolg van ons groot behoefte.

Die morele en spirituele agterlikheid van Urantia in vergelyking met ander planete, is te wyte, so word ons vertel, aan sekere ongelukkige gebeure van baie lank gelede – soos maar altyd moontlik is in eindige wêrelde, waar onvolmaakte wesens oor vrye wil beskik. Ses keer tevore, op ander sfere, het hierdie goddelike Seun van God Homself geskenk en die lewe geleef van een van sy eie skepsels, en daardeur, met hierdie sewende en laaste een, in die gelykenis van die laagste orde, volslae en absolute soewereiniteit verdien oor die heelal wat hy geskape het. Jesus het nie na Urantia gekom om ’n God van wraak te paai nie, nog minder om Homself op te offer as ’n losprys deur aan die kruis te sterf. Die kruis was geheel en al die doen en late van die mens gewees, en nie God se vereiste nie. Hy het gekom om aan te kondig dat God ’n liefdevolle Vader is, dat die mens ’n Seun van die ewige God is, en dat alle mense broers is. Deur hierdie sewe selfskenkings het hy sy goddelike en volmaakte persoonlikheid verryk, en dit nie alleen volledig gemaak nie, maar versadig. Hy het dus die Seun van die Mens geword, bykomend tot die Seun van God.

Baie ander lewensordes, volmaak geskape, voeg by hulle geaardhede deur dienslewering aan opklimmers op weg na die Paradys. Volmaakte wesens daal neer om diegene diensbaar te wees wat opklim – ’n tweerigting plan.

Die Opperwese

Al hierdie lewenservaring van beide opklimmers en afklimmers word geleidelik gesintetiseer en gekoördineer in ’n ontwikkelende, universele bewussyn, ’n groeiende universele siel van die skepping, om uiteindelik verpersoonlik te mag word as die Opperwese, die administrateur van die vervolmaakte, eindige heelalle – aldus die lering van Die Urantia Boek. Tot die ontwikkeling van hierdie tydruimtelike God dra selfs ons sterfling by deur ons lewenservaring. Die konsep van ’n groeiende, eindige Godheid is voorgestel deur sekere wysgere van ons planeet.

Die Lewe en Leer van Jesus

Die verslag van die lewe en leer van Jesus in Die Urantia Boek is baie meer volledig as die van die Nuwe Testament, maar nie teenstrydig nie. die bomenslike outeurs baseer hulle relaas hoofsaaklik op verslae wat voorsien is deur ’n tipe beskermengel van die Apostel Andreas. Hulle verskaf definitiewe datums en heelwat tot nou toe onbekende besonderhede, wat sorg vir ’n uiters leesbare, eenvoudige verhaal. Hierdie biografie neem die laaste derde van die boek in beslag, die voorafgaande tweederdes behels ’n insiggewende inleiding, ’n heelal-agtergrond, vir die boeinde drama van hierdie godlik-menslike lewe op ons verdrietige planeet. Die aanbieding dus van die beeld van hierdie weergalose lewe in die kosmiese raamwerk daarvan, is met reg die hoogtepunt, die gepaste slot, van die Urantia-openbaring. Die openingsparagrawe van die boek bied daardie uitnodigingsbevel  van die Skepper Vader van al die heelalle aan Sy wydverspreide gesin van eindige, sterflike kinders, “Wees julle dan volmaak”; en die volgende tweeduisend bladsye spel uit besonderhede en stappe op die weg van volmaaktheidsprestasie. Jesus wys vir ons sterflinge die weg aan. Sy lewe en voorskrifte, in hulle oorspronklike vorm, onbelemmerd deur tradisie en dogma, is by ver die grootste moontlike hulp wat die sterflike mens kan hê in sy eeue-lange klim Paradys-waarts, wat hier benede begin word en voortgesit word op die ontelbare sfere van die ruimte.


’n Diens van

Die Urantia Boeklesers van Suider Afrika

Make a Free Website with Yola.