Die Urantia Boek Suid-Afrika


 

WAT IS DIE URANTIA BOEK?

Die Urantia Verhandelinge is 'n outentieke openbaring vir moderne denkende mense en beskawings. Dit voorsien unieke antwoorde op die groot vrae: Wie is ons? Waarvandaan kom ons? Waarom is ons hier? Waarheen is ons op pad? - antwoorde wat nêrens anders gevind kan word nie.

Die Urantia Boek maak die aanspraak dat dit geskryf is deur bomenslike wesens. Benewens die aanbieding van opsienbarende nuwe inligting, het die outeurs baie bestaande menslike gedagtes en voormalig uitgedrukte konsepte met mekaar verweef. Gedetaileerde inligting omtrent hierdie bronne en die verband daarvan met die inhoud van Die Urantia Verhandelinge kan op verskeie webtuistes bestudeer word.

Die oorspronge van Die Urantia Verhandelinge is in 'n waas van geheimsinnigheid gehul. Niemand wat vandag lewe weet vir seker hóé die boek ontstaan het nie, maar verskeie tradisies is oorgelewer, en kan dit ook gevind word in boeke en op die Internet.

Daar is geen manier om wetenskaplik te bewys dat die boek wél is wat dit voorgee om te wees nie. Die egtheid daarvan kan slegs bevestig word deur persoonlike ervaring en ’n ernstige studie van die inhoud daarvan. Terwyl sommige aan wie Die Urantia Verhandelinge gewys word, ongeërg of selfs vyandiggesind daarteenoor is, het duisende ander dit 'n waardevolle bron van geestelike voorligting en inspirasie gevind, asook diepgaande lewensveranderinge ervaar as gevolg van hulle studies. As jy oor 'n oop gemoed beskik en gewillig is om 'n bietjie tyd en inspanning te bestee, mag dit dalk net wees waarna jy gesoek het. Die enigste manier om te bepaal of Die Urantia Verhandelinge ’n plek in jou lewe het, is om dit vir jouself te ondersoek.

Die Urantia Verhandelinge is vir die eerste keer in 1955 gepubliseer. Sedertdien is meer as 700,000 kopieë in Engels, asook verskeie vertalings rondom die wêreld, versprei. Dit is geredelik beskikbaar in groot boekwinkels en via die Internet. Dit kan ook gratis afgelaai en gelees word op "Urantia Boek"-verwante webtuistes.

Make a Free Website with Yola.